
=====================================================================
Nuwe speler op die taalveld (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Nuwe speler op die taalveld

Jaap Steyn vat agtergrondsinligting oor die Groep van 63 saam.

EEN van die belangrikste inisiatiewe uit die Afrikaanse gemeenskap sedert die einde van die Anglo-Boereoorlog. Dit is die oordeel van prof. 
Hermann Giliomee, bekende historikus en politieke wetenskaplike, oor die Groep van 63, wat in Mei 2000 tot stand gekom het. Giliomee se 
positiewe uitspraak word aangehaal in 'n mediaverklaring van die Groep op 31 Mei 2000 waarin bekend gemaak is dat hy en ander akademici 
adviseurs van die groep word.

By implikasie vergelyk Giliomee die Groep van 63 dus met die Helpmekaarbeweging en die oprigting van Naspers en Sanlam. Dit is sulke 
inisiatiewe wat bygedra het tot die welslae van die twintigste-eeuse Afrikaanse beweging.

Van 'n "bre Afrikaanse beweging" word reeds gepraat deur dr. Karel Prinsloo, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Afrikaans. Op 'n 
internasionale konferensie in Puerto Rico oor taalregte en meertaligheid het hy ges dat di beweging ontwikkel het as gevolg van die 
"sterk druk vir verengelsing" (Rapport, 4 Junie 2000).

Die koerante lewer inderdaad dag vir dag bewyse vir die noodsaak van taalaksies. Die pers het in Junie 2000 die aandag daarop gevestig dat 
pres. Thabo Mbeki nog nie 'n belangrike belofte nagekom het wat hy in Maart 1999 gedoen het nie. Dit is om 'n meganisme in te stel wat moet 
verseker dat grondwetlike taalregte beskerm word.

'n Optimis sou destyds kon gedink het dat die belofte 'n aanduiding is van 'n ander gesindheid by die maghebbers. Mbeki het in sy toespraak 
mooi woorde gebruik soos dat die taalkwessie "korrek, sensitief en spoedig" gehanteer moet word.

Maar dit het alles le woorde gebly. Die enigste woord wat sin gemaak het, was "spoedig". Spoedig n Mbeki se toespraak is die aftakeling 
van Afrikaans onsensitief en inkorrek hervat. So is begin met stappe om van Engels die enigste verslagtaal in die howe te maak. Engels het 
die Weermag se amptelike operasionele taal geword, en gaan ingefaseer word as die enigste taal van Weermagopleiding. Pansat wys op die een 
oortreding van die Grondwet n die ander.

Die afgelope tien jaar is daar al 'n taaldebat in veral die Afrikaanse media aan die gang. Sedert die tweede helfte van 1999 is verskeie 
belangwekkende inisiatiewe op taal- en verwante gebiede onderneem.

Onder die belangrikste was 'n ope brief van 'n groep intellektuele aan pres. Mbeki oor minderheidsregte, die instelling van die Afrikaanse 
televisiekanaal kykNET in November 1999 en die stigting van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) onder leiding van 'n sakeman en filosoof, 
dr. Dan Roodt.

Aan die einde van 1999 het Z.B. du Toit se boek Die nuwe toekoms  'n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling verskyn, met 'n 
inleiding deur Izak de Villiers, gewese redakteur van Sarie en Rapport, asook aanbevelings deur twee van die land se beste kommentators oor 
aktuele sake, naamlik Hermann Giliomee en Deon Geldenhuys. Du Toit se boek het baie mense oortuig dat hul aandrang op die inagneming van 
minderheidsbelange geregverdig en in ooreenstemming met internasionale ontwikkelinge is.

Op 'n verwante terrein het die Mynwerkersunie sterk begin optree teen taal- en ander soorte onreg, veral di wat regstellende aksie vir 
baie Afrikaners en ander meebring.

Die totstandkoming van die Groep van 63 is 'n onderdeel van hierdie beweging. Die stigtingsberaad van 5 tot 7 Mei 2000 in Hammanskraal naby 
Pretoria is aangebied deur Fragmente, die betreklik jong tydskrif vir filosofie en kultuurkritiek, en is bygewoon deur 63 mense. Treffend 
van die byeenkoms was dat dit jong mense was wat die inisiatief geneem en van die prikkelendste bydraes gelewer het.

Heel tereg beskou die organiseerders dit as 'n groot deurbraak dat soveel mense wat in die verlede wyd uiteenlopende standpunte ingeneem 
het, die inisiatief steun. Hulle meen dat dit geen nut kan h om 'n onderlinge debat oor die deelnemers se politieke verlede te voer nie.

Die doelstelling van die Groep van 63 is die bevordering van gedeelde kulturele en ekonomiese belange van die bre Afrikaanse gemeenskap, 
veral die taal.

Op die stigtingsberaad het verskeie bekende intellektuele opgetree. Daar was boodskappe van die digter Breyten Breytenbach en die 
oudpolitikus en sakeman dr. Frederik van Zyl Slabbert. Lesings is gehou deur (in volgorde van optrede) Hermann Giliomee, Lawrence 
Schlemmer, Danie Goosen, Johann Rossouw, Deon Geldenhuys, Dan Roodt, Flip Buys, Willem Frost, Huw Davies, Andr van den Berg, Chris Louw, 
Hennie van Coller, Jaap Steyn, Hennie Strydom, Koos Malan, en Z.B. du Toit. Onder die mense wat repliek op besprekings gelewer het, was 
Jannie Gagiano, Piet Muller, Christo Viljoen en Carl Boshoff (IV). 'n Samevatting van die toesprake deur Johann Rossouw verskyn in die 
rubriek Seminaarkamer op LitNet.

Die vakbondaktivis Flip Buys het met behulp van syfers van Statistiek Suid-Afrika en navorsingsgegewens van die Departement van Arbeid 
bereken dat meer as 700 000 lede van die Afrikaanse gemeenskap in die volgende paar jaar werkloos gaan raak weens regstellende aksie en die 
Wet op Diensbillikheid, wat op 1 Junie in werking getree het.

Die onderwysdeskundige Huw Davies het vermeld dat uit 'n totaal van 2 800 Afrikaansmediumskole meer as 800 sedert 1994 oorgeskakel het na 
parallel-, dubbel- of selfs Engelsmedium. Sowat agt persent van die skole in die land is Afrikaansmedium, terwyl agt persent van die 
leerlinge ook Afrikaans is. Nogtans word gereeld verkondig dat daar veels te veel Afrikaanse skole is, en het Blade Nzimande van die ANC 
beweer dat die strewe van die Afrikaanse skole om Afrikaans te bly, van 'n volkstaatmentaliteit getuig.

Danie Goosen, filosoof van Unisa, het 'n pleidooi gelewer vir die ontwikkeling van nuwe, inklusiewe, progressiewe simbole vir die 
Afrikaanse wreld.

Johann Rossouw, filosoof van die Franse Instituut in Johannesburg, het die volgende as probleme op weg na demokrasie in die Afrikaanse 
gemeenskap uitgesonder: rassisme, seksisme, 'n oordrewe godsdienssin, 'n geneigdheid tot fundamentalisme en kitsoplossings, ou 
Broederbondstylpolitiek agter geslote deure en dies meer. Hy het gepleit om die oprigting van 'n Afrikaanse tydskrif wat onder alle 
gemeenskappe in Afrikaans versprei word en 'n kritiek op globalisering en ander ondemokratiese impulse ontwikkel. Hy het ook gewys op die 
oningeligte vlak waarop die huidige debat tans nog in die nagloed van die kultuurboikot gevoer word.

Deon Geldenhuys, politieke wetenskaplike van die Randse Afrikaanse Universiteit, het 'n aantal knap voorstelle oor die internasionalisering 
van die Afrikaanse gemeenskap se belange en behoeftes gedoen, waaronder die bearbeiding van plaaslike ambassadeurs en die vorming van 
alliansies met internasionale organisasies wat hulle reeds vir minderheidsregte beywer.

Dan Roodt het aangetoon hoe belangrik dit vir 'n voormalige kolonie soos Suid-Afrika is om 'n invloed op die groot metropole soos Londen, 
New York en ander uit te oefen ten einde 'n eie Suid-Afrikaanse stem te ontwikkel.

'n Aantal van die 63 mense het hulle binne 'n paar dae weens onderlinge verskille aan die groep onttrek. Onder hulle is Dan en Karen Roodt, 
Chris Louw van Radio Sonder Grense en sy swaer die politieke wetenskaplike Jannie Gagiano.

Die totstandkoming van die Groep van 63 het, soos 'n mens kon verwag, 'n gemengde ontvangs gehad. Veral in Gauteng was die kommentaar 
negatief en soms snedig.

Mnr. Ton Vosloo, voorsitter van sowel Naspers as die Afrikaanse Oorlegplatform, het egter verklaar dat alle gesprekke rondom Afrikaans 
aangemoedig moet word en dat dit verkeerd sou wees om sonder meer die rug daarop te keer.

Die Burger het in 'n hoofartikel geskryf dat Vosloo se verklaring aanmerklik verskil "van die venynige afwysing in sekere kringe".

Agter di afwysing "skuil 'n groot skeut wreldvreemdheid, asook ruim selfkastyding, behalwe nog die refleksreaksies van sommige wat 'n 
lewe daaruit probeer maak deur 'die Boere te looi'.

"Sulke negatiewe reaksies toon dat die nuwe heersers se strewe na volkome hegemonie begin slaag, terwyl die rol van 'n progressiewe 
burgerlike samelewing versmoor word.

"Die Groep van 63 kan met verbeeldingryke inisiatiewe help verhinder dat die vaal eenvormigheid en leweloosheid van post-koloniale 
konformisme Suid-Afrika oorheers." (Die Burger, 17 Mei 2000.)

Die groep het pleks van die gebruiklike "beskermhere" 'n komitee van adviseurs. Dit bestaan uit Breyten Breytenbach, Johan Degenaar, 
Hermann Giliomee, Dion Prinsloo, Lawrence Schlemmer, Frederik van Zyl Slabbert, Jaap Steyn en David Welsh.

Die lede van die werkskomitee is Martjie Bosman (geesteswetenskaplike), Flip Buys (vakbondaktivis), Danie Goosen (filosoof), Kallie Kriel 
(vakbondaktivis), Koos Malan (regsdosent), Piet Muller (toekomskundige), Johann Rossouw (filosoof), Marinus Schoeman (filosoof), Hennie van 
Coller (akademikus), Christo Viljoen (akademikus). Danie Goosen is die voorsitter.

Die sekretariaat bestaan uit Martjie Bosman, Kallie Kriel en Johann Rossouw (voorsitter). Die webblad is by: 
http://www.geocities.com/groep63/. Prof. J.C. Steyn is 'n vryskutskrywer.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7314.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

